Tema: Vorms en syfers om ons
Bybelstorie: Die 10 plae
Waarde: Wees gehoorsaam
Die 10 plae
God se mense, die Israeliete, het in Egipte gewoon, waar hulle baie sleg behandel is. God was lief vir sy mense en het ’n man met die naam Moses gestuur om hulle vry te laat.
Moses het vir Farao, die koning, gesê om God se mense te laat gaan. Maar Farao het gesê: “Nee!” God wou hê dat Farao moet leer luister en gehoorsaam wees aan hom. So, God stuur toe 10 plae.
Eers het God die water in bloed verander, sodat niemand dit kon drink nie. Maar Farao het nie geluister nie. Tweede het God paddas oral laat hop – op tafels, beddens en selfs Farao se stoel! Tog het Farao gesê: “Nee!”
Derde het lastige muggies gekom en vierde het vlieë gekom. Hulle het gegons en almal gepla. Maar Farao was hardkoppig. Hy wou nie gehoorsaam wees nie.
Vyfde het al die diere siek geword en sesde het al die mense jeukerige seerplekke oor hul lyf gekry. Sewende het God hael en weerlig gestuur om hulle oeste te vernietig. Farao was bang, maar wou steeds nie die mense laat gaan nie.
Agtste het sprinkane gekom en al die plante opgevreet, en negende was dit vir drie dae lank donker. Dit het almal bang gemaak. Maar Farao was steeds nie gehoorsaam aan God nie.
Uiteindelik het God die tiende en hartseerste plaag gestuur. Die oudste kind in elke Egiptiese gesin is weggeneem. Eers toe was Farao gehoorsaam aan God en het hy vir die Israeliete gesê: “Gaan!” Moses het die volk veilig en vry uit Egipte gelei.
(Eksodus 7 – 11)
- Opening
Kom ons tel tot 10!
Kan jy vir my jou 10 vingers wys? En jou 10 tone?
Vandag gaan ons lees van ’n ongehoorsame koning en 10 slegte dinge wat in sy land gebeur het.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gepraat oor hoe God die 10 plae gestuur het om Farao te oorreed om Sy volk te laat gaan. Kom ons lees weer die storie.
Watter opdrag het God aan Farao gegee?
Wat het gebeur toe Farao nie die mense wou laat gaan nie?
Wat het gebeur toe Farao besluit het om gehoorsaam te wees aan God?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Watter opdrag het God aan Farao gegee?
Wat het gebeur toe Farao nie die mense wou laat gaan nie?
Wat het gebeur toe Farao besluit het om gehoorsaam te wees aan God?
- Waarde
Hierdie week het ons gepraat oor hoe Farao aan God ongehoorsaam was en hoe dinge net erger geword het.
Dis baie belangrik om vir God te luister en gehoorsaam te wees. God gee vir ons reëls omdat Hy ons veilig wil hou. Ons onderwysers en ouers gee ook vir ons reëls. Wanneer ons nie gehoorsaam is nie, is daar altyd gevolge, net soos die plae wat gekom het toe Farao ongehoorsaam was.
Wat is van die reëls wat jy elke dag moet gehoorsaam?
Wat gebeur as jy nie gehoorsaam is nie?
- Aktiwiteit
In ons Bybelstorie hierdie week het ons geleer dat dit altyd die beste is om gehoorsaam te wees aan God, ons onderwysers en ouers. Daar is altyd gevolge wanneer ons hulle ongehoorsaam is, net soos toe die plae gekom het toe Farao nie gehoorsaam wou wees nie.
(Laat die kinders om die beurt die verskillende plae uitbeeld, byvoorbeeld spring soos paddas, gons soos vlieë, maak asof hulle jeuk en maak hul oë toe asof dit donker is. Verduidelik dat daar altyd gevolge is wanneer ons ongehoorsaam is aan God, ons ouers en onderwysers.)