Tema: Speel saam, wees lief vir mekaar en leer ‘n liefde vir stories en boeke
Bybelstorie: Die toring van Babel
Waarde: Wees lief vir ander en help ander
Die toring van Babel
Baie jare gelede het al die mense op aarde dieselfde taal gepraat. Hulle het besluit om ’n hoë toring te bou wat tot bo by die wolke strek. Hulle het dit die toring van Babel genoem.
“Kom ons bou hierdie toring om te wys hoe wonderlik ons is!” het hulle gesê en saamgewerk. Hulle het gebou en gebou totdat die toring amper tot by die wolke was! Maar al hierdie bouery was vir die verkeerde rede. Hulle wou spog en wys dat hulle belangriker as God en ander mense was.
God het gesien hoe hulle bou. Hy het gesien dat hulle nie aan Hom dink nie. Hulle was ook nie lief vir mekaar nie en wou mekaar nie help nie. Elkeen het net aan homself gedink. So, God het almal verskillende tale laat praat. Skielik kon hulle mekaar nie verstaan nie! Die mense was deurmekaar en kon nie die toring klaarmaak nie. Hulle het opgehou bou en regoor die wêreld op verskillende plekke gaan bly.
God wou hê dat hulle ’n belangrike les moet leer: Dit is belangrik om mekaar lief te hê en te help. Ons moenie probeer om beter as ander mense te wees nie. Wanneer ons in liefde saamwerk en mekaar help, maak ons God gelukkig.
(Genesis 11:1-9)
- Opening
Ciao! Aloha! Guten tag!
Kon jy enige van hierdie woorde verstaan? Almal van hulle beteken “hallo” in verskillende tale. Kan jy hallo sê in ’n ander taal?
Het jy geweet dat almal in die wêreld dieselfde taal gepraat het? Kom ons vind uit hoe dit verander het.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gepraat oor hoe mense die toring van Babel gebou het, en hoe hulle mekaar skielik nie meer kon verstaan nie. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Hoe het dit geklink toe almal skielik verskillende tale gepraat het? (Vra die kinders om almal gelyktydig te praat).
- Vertel weer die storie
Kan jy my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Hoekom het die mense ‘n hoë toring gebou?
Waarom het God hulle verskillende tale laat praat?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe mense die toring van Babel gebou het om vir ander mense te wys dat hulle beter as hulle is, en beter as God.
Dit maak God hartseer as ons dink dat ons beter as Hy is, of beter is as ander mense. God wil hê ons moet as ’n span saamwerk. Hy wil hê ons moet ons talente gebruik om aan ander liefde te wys, ander te help en om Hom te dien. Wanneer ons dit doen, kan ons ’n wêreld bou wat God laat glimlag!
Hoe kan jy beter saamwerk en jou maats beter help?
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het God die bouers van die toring van Babel ‘n les geleer. Hy het hulle geleer hoe belangrik dit is om mekaar te help en om God eerste in ons lewens te stel.
Kom ons kyk hoe goed jy kan saamwerk en jou maats kan help!
(Gee vir die kinders boublokkies en moedig hulle aan om saam te werk om ’n toring te bou. Terwyl hulle bou, praat oor hoe hulle mekaar kan help, kan deel en as ’n span kan saamwerk.)