Tema: Vervoer: Water

Bybelstorie: Noag en die vloed

Waarde: Wees gehoorsaam

Noag en die vloed

Daar was ’n tyd in die Bybel toe die mense op aarde nie lief was vir God nie. Hulle was ook nie lief vir mekaar nie. Hulle het slegte dinge gedoen en dit het God baie hartseer gemaak. So hartseer, dat God besluit het om die hele aarde te oorstroom.

God kon net een goeie man vind, en sy naam was Noag. Noag was lief vir God en het gedoen wat reg was. Eendag het God vir Noag gesê: “Ek gaan ’n groot vloed stuur om die hele aarde te bedek. Maar ek sal jou en jou gesin veilig hou. Jy moet ’n groot boot bou wat ’n ark genoem word.”

Noag het mooi geluister na God se opdrag en die ark gebou. Almal het gedink hy is simpel en het vir hom gelag, maar Noag het nie omgegee nie, want hy was gehoorsaam aan God.

Toe die ark klaar was, het God twee van elke dier na die ark gestuur – grotes, kleintjies, langes en kortes! Leeus, kameelperde, ape en voëls het almal by die ark ingegaan.

Toe het dit begin reën. Dit het vir veertig dae en veertig nagte gereën. Die hele wêreld was toe onder die water, maar Noag, sy gesin en al die diere was veilig in die ark. Hulle het op die water gedryf totdat die reën opgehou het.

Na ’n lang tyd het die water begin sak. Noag het ’n duif uitgestuur, en die duif het ’n olyfblaar teruggebring, wat ’n teken was dat hulle gou weer op die grond sou kon loop. Uiteindelik het die ark op ’n berg tot stilstand gekom. Noag en die diere het uitgekom, en God het ’n reënboog in die lug laat verskyn as ’n belofte dat Hy nooit weer die wêreld sou oorstroom nie.

(Genesis 6-9)

 

  1. Opening

Het jy al ooit ‘n reënboog in die lug gesien?

Hoe het dit gelyk?

Hoe het jy gevoel toe jy ‘n reënboog gesien het?

Vandag gaan ons uit die Bybel leer van ‘n groot boot, baie diere en ‘n baie spesiale reënboog. Kom ons lees die Bybelverhaal.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gesels oor die groot ark wat Noag gebou het en hoe God ‘n vloed oor die hele aarde gestuur het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Watter diere sien jy in die prentjie?

Kom ons tel hulle!

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)

Hoekom het God vir Noag gevra om die ark te bou?

Hoe dink jy het Noag gevoel?

Wanneer voel jy so?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gepraat oor Noag se gehoorsaamheid toe God hom gevra het om ‘n ark te bou.

Wat het aan die einde van die storie gebeur nadat Noag die ark gebou het?

Wat sou gebeur het as Noag nie die ark gebou het nie?

Om na God te luister en gehoorsaam te wees is baie belangrik. Net soos Noag, kan ons na ons ouers, onderwysers en God luister. Hulle sal ons help om veilig te bly en die regte dinge te doen.

Hoe kan jy hierdie week gehoorsaam wees en na jou ouers en juffrouens luister?

 

  1. Aktiwiteit

In ons Bybelstorie hierdie week het Noag se gehoorsaam-heid aan God daartoe gelei dat sy gesin en al die diere gered kon word.

Kan jy onthou toe jy nie na jou ouers of onderwysers geluister het nie? Wat het toe gebeur?

Wat gebeur as ons gehoorsaam is en na ons ouers of onderwysers luister?

Kom ons kyk of jy gehoorsaam kan wees net soos Noag en die diere was!

(Speel vrolike musiek en laat die kinders maak of hulle hul gunstelingdiere is wat by die ark inmarsjeer. Terwyl hulle marsjeer, noem weer die belangrikheid daarvan om te luister en aanwysings te volg, net soos Noag gedoen het.)