Tema: Troeteldiere
Bybelstorie: Adam en Eva se belangrike taak
Waarde: Wees ‘n goeie rentmeester
Adam en Eva se belangrike taak
Baie jare gelede het God die wêreld gemaak. Hy het die lug, die bome, die diere en selfs die visse in die see gemaak! Toe het God twee spesiale mense gemaak, Adam en Eva. God was baie lief vir hulle.
God het vir Adam en Eva ’n groot en belangrike opdrag gegee. Hy het vir hulle gesê: “Die aarde is julle blyplek, en ek vertrou julle om mooi daarvoor te sorg. Kyk na die diere, die plante en alles wat ek gemaak het.” Adam en Eva was so gelukkig! Hulle het deur die tuin gestap en al die mooi dinge gesien wat God gemaak het. Die voëls het gesing, die wolwe het gehuil en die sebras het vrolik deur die lande gehardloop.
Adam het vir die diere name gegee, en Eva het die plante natgemaak. Hulle het saamgewerk en gesorg vir God se wonderlike skepping.
God was gelukkig omdat Adam en Eva goeie rentmeesters was. Dit beteken dat hulle mooi gesorg het vir alles wat God vir hulle gegee het. Adam en Eva was gelukkig, want hulle het geweet dat hulle God eer deur vir Sy pragtige wêreld te sorg.
(Genesis 1:27-30; 2:18-20)
- Opening
Het jy enige troeteldiere by die huis?
Watter troeteldier sal jy graag eendag wil hê?
Watter naam sal jy vir jou gunsteling dier gee?
Vandag gaan ons leer oor die heel eerste mense, en hoe hulle vir al die diere op aarde moes sorg. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die belangrike werk wat God vir Adam en Eva gegee het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Watter diere sien jy in die prentjie?
Watter geluide maak hulle?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Hoe het Adam en Eva gevoel toe hulle die diere vir die eerste keer gesien het?
Wat laat jou opgewonde voel?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe God vir Adam en Eva ‘n baie belangrike werk gegee het. Watter belangrike werk het God vir hulle gegee?
Om ‘n goeie rentmeester te wees, beteken om te sorg vir die dinge wat God ons gegee het. Hoekom is dit belangrik om te sorg vir die dinge rondom ons?
Wat kan jy doen om ‘n goeie rentmeester te wees van die dinge wat God vir jou gegee het?
Ja, ons kan ons troeteldiere en speelgoed mooi oppas, rommel optel en plante water gee.
- Aktiwiteit
In ons Bybelverhaal hierdie week was Adam en Eva goeie rentmeesters deur vir die diere en plante te sorg wat God vir hulle gegee het.
Hoe kan jy sorg vir die wêreld wat God gemaak het, net soos Adam en Eva?
Vandag gaan ons ons eie troeteldiere maak, en vir hulle name gee net soos Adam en Eva gedoen het!
(Help elke kind om ‘n ballon op te blaas en ‘n kat- of hondgesig daarop te teken. Bind ‘n tou aan die punt vas asof hul “troeteldier” aan ‘n leiband is. Moedig hulle aan om hul troeteldier ‘n naam te gee en te praat oor hoe hulle sal sorg vir hul nuwe troeteldier.)