Tema: Wilde diere

Bybelstorie: Daniël in die leeukuil

Waarde: Vertrou op God se beskerming

Daniël en die leeus

Daniël was lief vir God en het elke dag tot Hom gebid. Hy was slim en het vir koning Darius gewerk. Maar party mans was jaloers op Daniël en het ’n plan gemaak. Hulle het die koning bedrieg om ’n reël te maak: niemand kon vir 30 dae tot enigiemand behalwe die koning bid nie. As hulle dit sou doen, sou hulle in die leeukuil gegooi word!

Daniël het van die reël gehoor, maar het aangehou om tot God te bid omdat hy Hom vertrou het. Die jaloerse mans het dit vir die koning vertel, en koning Darius was hartseer. Hy het van Daniël gehou, maar moes die reël volg. Daniël is toe in die leeukuil gegooi.

Die leeus was groot en skrikwekkend, en hul tande was skerp. Maar Daniël het op God vertrou. Raai wat gebeur toe? God het ’n engel gestuur om die leeus se bekke toe te maak! Daniël was veilig en gesond!

Vroeg die volgende oggend het Koning Darius na die leeukuil gehardloop en uitgeroep: “Daniël, het jou God jou gered?” Daniël het geantwoord: “Ja! God het my veilig gehou omdat ek op Hom vertrou het.”

Die koning was so bly dat hy ’n nuwe reël gemaak het: almal moet tot Daniël se God bid, want Hy is magtig en Hy beskerm sy volk.

(Daniël 6)

 

  1. Opening

Watter soorte wilde diere kan jy noem?

Watter geluid maak ‘n leeu?

Vandag gaan ons uit die Bybel leer oor ‘n man met die naam Daniël en ‘n paar groot leeus. Kom ons lees die Bybelverhaal.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gesels oor Daniël wat in die leeukuil gegooi is. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Watter diere sien jy in die prentjie? Kom ons tel hulle!

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)

Watter nuwe reël het die koning gemaak?

Hoe dink jy het Daniël gevoel toe hy in die leeukuil ingegaan het?

Wanneer voel jy so?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe God Daniël uit die leeukuil gered het.

Hoekom het Daniël aangehou om tot God te bid, al was dit teen die reëls?

Wat het gebeur nadat Daniël in die leeukuil gegooi is?

Daniël het God vertrou, en God het vir hom gesorg. Ons kan God vertrou net soos Daniël het, en Hy sal altyd vir ons sorg. Maak nie saak wat gebeur nie, God is altyd by ons, en Hy het ons baie lief.

Is daar iets wat jou bang laat voel? Kom ons bid saam en vra God om ons daarmee te help.

 

  1. Aktiwiteit

In ons Bybelverhaal hierdie week het Daniël God vertrou en dit het sy lewe gered.

Kan jy dink aan ‘n tyd toe jy God vertrou het, soos Daniël gedoen het?

Ons kan altyd vir God vra om ons te help en wéét dat Hy sal. Nou, kom ons maak asof ons leeus is!

(Laat die kinders hande-viervoet loop en brul soos groot leeus. As jy “Stop!” skree moet hulle vries en stilbly, net soos die leeus in die storie gedoen het.)