Tema: Verwelkoming
Bybelstorie: Die pottebakker en die klei
Waarde: Volg God se leiding
Die pottebakker en die klei
Baie jare gelede het daar ’n profeet met die naam Jeremia gewoon. God het vir Jeremia boodskappe gegee, wat Jeremia aan die mense moes gee.
Eendag het God vir Jeremia gesê om na ’n pottebakker se huis te gaan. Die pottebakker was besig om ’n pot van klei te maak, maar iets het verkeerd geloop en die pot was ’n flop. Die pottebakker het toe die nat klei bymekaargeskraap en probeer om ’n nuwe pot te maak. Hy het die klei met sy hande gedruk en gevorm totdat die pot perfek was, net soos hy dit wou hê.
God het vir Jeremia gesê: “My kinders is soos nat klei in my hande. As hulle my toelaat, kan ek iets wonderliks uit hulle maak, al voel hulle stukkend of nie perfek nie.”
God het Jeremia ook gewaarsku. Soms wil ons ons eie ding doen, in plaas daarvan om God toe te laat om ons te verander om meer soos Hy te wees. Maar God het ons almal gemaak en Hy weet wat die beste vir ons is. Ons moet altyd op God vertrou en Hom toelaat om ons te maak soos Hy wil hê ons moet wees.
(Jeremia 18:1-17)
- Opening
(Deel ’n stuk klei of speelklei aan elke kind uit).
Wat is dit wat jy in jou hand het? Wat kan jy daarmee maak?
Lank gelede het mense klei gebruik om dinge soos potte te maak waaruit hulle hul kos kon eet. God het een keer klei gebruik om vir ons iets baie belangriks te leer. Kom ons lees die storie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die pottebakker en die klei. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie? Hoe dink jy het die pottebakker gevoel toe hy besig was om die pot te maak?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Wat maak jy graag met klei?
Is dit makliker om met sagte klei of harde klei te werk?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe God ons wil verander om meer soos Hy te wees, net soos ’n pottebakker klei verander.
Kan jy iemand noem wat jou leer om die regte ding te doen?
Luister jy altyd na hulle?
Wanneer ons na ons ouers en onderwysers luister, laat ons toe dat God ons vorm, net soos die sagte klei. Maar wanneer ons nie na hulle luister nie, is ons soos die harde klei wat God nie kan gebruik nie.
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het ons geleer hoe God ons wil verander om beter mense te wees. Hy gebruik ook ons onderwysers en ouers om ons te lei om die regte ding te doen.
Gaan jy harde klei of sagte klei in God se hande wees?
Wat kan jy doen om gehoorsaam te wees aan jou onderwysers en ouers?
(Deel ’n stukkie speelklei of klei aan elke kind uit en laat hulle enige iets maak wat hulle wil. Terwyl hulle die klei vorm, praat oor hoe God hulle vorm deur die leiding van hul onderwysers en ouers.)