Tema: Ontdek die wêreld deur kreatiwiteit: kuns, musiek en dans
Bybelstorie: Dawid aanbid God
Waarde: Wees dankbaar
Dawid dans vir God
Baie jare gelede was daar ’n wyse en dapper koning met die naam Dawid. Hy het God liefgehad met sy hele hart. Hy wou hê almal moet weet hoe wonderlik God is.
In daardie tyd het God se volk, die Israeliete, die Verbondsark besit – ’n groot goue boks, wat hulle herinner het aan God se liefde en beloftes.
Eendag het Dawid besluit om die Verbondsark na die stad Jerusalem te neem. Terwyl hulle gestap het, het almal begin om God te loof en Hom te dank vir Sy goedheid. Musiek het die lug gevul terwyl hulle instrumente bespeel, gedans en gesing het. David het reg voor gesing en gedans! Hy het nie omgegee wat enigiemand dink nie.
Toe hulle in Jerusalem aankom, het Dawid ’n spesiale tent vir die Ark opgeslaan. Hy het vir almal ’n liedjie geleer oor al die wonderlike dinge wat God vir hulle gedoen het, soos toe God hulle uit Egipte gered het waar hulle slawe was, en toe God vir hulle hul eie land gegee het. God het al die lof en aanbidding verdien, want Hy was die Een wat alles moontlik gemaak het.
En so, met harte vol dankbaarheid, het die volk Israel aangehou om God te aanbid en te prys. Hulle het geweet dat Hy hulle liefhet en vir hulle omgee.
(1 Kronieke 15-16)
- Opening
Was jy al ooit baie gelukkig of dankbaar vir iets, soos ’n nuwe speelding of toe iemand iets mooi vir jou gedoen het? Wat het jy gedoen om te wys dat jy gelukkig en dankbaar is?
Vandag gaan ons leer van ‘n koning wat so gelukkig en dankbaar was, dat hy nie anders kon as om te sing en dans nie. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor Koning David wat voor God gesing en gedans het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie? Watter instrumente sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Waarom het Koning Dawid gedans en gesing en almal gevra om God saam met hom te aanbid?
Wat is van die dinge waarvoor jy dankbaar en gelukkig is?
- Waarde
Ons het hierdie week gesels oor hoe Koning David en die Israeliete God aanbid het.
Wat het hulle gedoen om God te aanbid?
Hoekom dink jy dis belangrik om God te aanbid?
Dawid se aanbidding leer ons dat dit belangrik is om God te dank en ons liefde vir Hom te wys. Ons kan God aanbid deur liedjies te sing, te bid en selfs te dans soos Dawid gedoen het! Wanneer ons God aanbid, maak dit Hom gelukkig.
Hoe kan jy God aanbid om Hom te wys dat jy dankbaar is vir alles wat Hy vir jou doen?
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het Dawid en die Israeliete God aanbid om Hom te wys dat hulle gelukkig en dankbaar is vir alles wat Hy doen.
Waarvoor kan jy vandag dankbaar wees?
Kom ons wys vir God dat ons dankbaar is deur te sing, te dans en instrumente te speel!
(Gebruik potte en lepels as instrumente, of maak skudgoed deur rys of sand in plastiekhouers te gooi. Sing die kinders se gunsteling Bybelliedjies hardop, dans en maak ‘n lekker lawaai om God te aanbid!)