Tema: Seisoene: Somer
Bybelstorie: Elia en die groot reën
Waarde: Vertrou op God se beloftes
Elia en die groot reën
Baie jare gelede was daar ’n man met die naam Elia wat God baie liefgehad het. Elia was ’n profeet, een van God se spesiale boodskappers.
Eendag het God vir Elia gestuur om vir die slegte koning Agab te sê: “Daar sal vir ’n lang tyd geen reën wees nie, want my volk het nie na My geluister nie.” En net soos God gesê het, het die lug droog gebly, en geen reën het geval nie. Die grond was stowwerig en die plante het opgehou groei. Die mense het ook nie water gehad om te drink nie.
Na baie, baie dae het God weer met Elia gepraat. “Gaan terug na koning Agab toe. Ek sal dit laat reën.” Elia was gehoorsaam en het vir koning Agab gesê om almal by die berg Karmel te laat bymekaarkom. Daar het Elia tot God gebid en gesê: “Wys vir almal dat U die ware God is.” God het vuur uit die lug gestuur om Sy krag te wys, en almal het geweet dat God die enigste ware God was. Hulle het besef dat hulle verkeerd was om te dink dat ander dinge belangriker is as God.
Toe klim Elia en sy helper by die berg op en hy begin bid. Hy het God gevra om dit te laat reën en vertrou dat God Sy belofte sal nakom. Hy het gekyk en gewag, maar daar was eers geen wolk nie. Hy het sewe keer gebid, en uiteindelik het ’n klein wolkie verskyn.
Skielik het die lug donker geword, die wind het begin waai en dit het begin reën! Die riviere en damme was weer vol water. Die droogte was verby! Die Israeliete was dankbaar dat God uiteindelik reën gestuur het.
God het Elia se gebede gehoor en die reën gestuur. Almal het gesien dat God magtig is en Sy beloftes nakom.
(1 Konings 17:1; 18:1-2,20-45)
- Opening
Wat gebeur as dit reën?
Ons word nat, plante word nat en damme word gevul.
Wat gebeur as dit nie reën nie?
Plante gaan dood, en riviere en damme droog op.
Vandag gaan ons lees van ’n keer in die Bybel toe dit vir ’n lang tyd nie gereën het nie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die keer toe daar ’n groot droogte was, en hoe dit daarna baie gereën het. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Hoe sal jy voel as dit na so ’n lang droogte begin reën?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Hoeveel keer het Elia vir reën gebid?
Wat sou gebeur as hy opgehou bid het nadat daar die eerste keer geen wolke in die lug was nie.
- Waarde
Ons het hierdie week gesels oor hoe Elia op God vertrou het om reën te stuur na ‘n droogte.
Hoe het Elia gevoel toe die Here sy gebede verhoor het?
Wanneer ons op God vertrou, gebeur wonderlike dinge!
Waarmee kan jy vir God vertrou om jou te help?
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het Elia God vertrou om reën te stuur tydens ’n vreeslike droogte. Die droogte was ’n baie hartseer en moeilike tyd vir die Israeliete. Kan jy ook dink aan ’n tyd toe jy hartseer was? (Vra vir voorbeelde)
Wanneer jy weer so voel, kan jy altyd bid en vertrou dat God jou sal help.
Vandag gaan ons ons eie reënwolk maak. Ons kan dit teen ’n muur plak om ons te herinner dat ons altyd op God kan vertrou, net soos Elia gedoen het.
(Gee vir elke kind ’n stuk papier en ’n paar watteballetjies om daarop te plak om ‘n wolk te skep. Gee vir hulle kryte om reën te teken wat uit die wolke val.)