Tema: My vriende
Bybelstorie: Dawid en Jonatan
Waarde: Wees lief vir ander en help ander
Dawid en Jonatan
In die Bybel leer ons van ’n jong man met die naam Dawid. Hy was baie dapper en hy was lief vir God.
Dawid het ’n spesiale vriend gehad, Prins Jonathan. Hulle was beste vriende! Jonatan het vir Dawid sy eie kleed, swaard en boog gegee as teken van sy vriendskap. “Dit is spesiaal vir my, en ek wil hê jy moet dit hê,” het Jonatan gesê. Dawid het gelukkig en geliefd gevoel.
Maar Jonatan se pa, Koning Saul, het nie baie van Dawid gehou nie. Hy was jaloers omdat almal meer van Dawid gehou het as van hom. Koning Saul wou Dawid seermaak.
Jonatan wou vir Dawid beskerm. Hy het Dawid gewaarsku elke keer wanneer koning Saul kwaad was. Hy het gesê: “Gaan kruip weg op ’n veilige plek. Ek sal jou laat weet wanneer dit veilig is om uit te kom.” Dawid het Jonatan vertrou, en hulle het mekaar altyd gehelp.
Jonatan en Dawid het belowe om vir altyd vriende te wees. Hulle het mekaar liefgehad net soos God wil hê ons ons vriende moet liefhê. Hulle was altyd vriendelik met mekaar en het mooi na mekaar omgesien.
(1 Samuel 18-20)
- Opening
Kan jy ‘n paar van jou maats noem?
Wat maak van hulle goeie vriende?
Vandag gaan ons lees van twee baie spesiale vriende. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het oor twee baie spesiale vriende gepraat. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Kan jy vir my wys waar is Dawid?
En wie is Jonatan?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Wat het Jonatan vir Dawid as geskenk gegee?
Waarom het hy vir Dawid so ‘n spesiale geskenk gegee?
Hoe voel jy wanneer iemand vir jou ‘n geskenk gee?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor die spesiale vriendskap tussen David en Jonathan. Jonatan het vir Dawid spesiale geskenke gegee, maar hy het ook iets anders gedoen.
Wat het hy gedoen?
Waarom het hy Dawid teen koning Saul beskerm?
Die Bybel leer ons dat ‘n goeie vriend iemand is wat ander liefhet en help, net soos Jonatan en Dawid. Om ‘n goeie vriend te hê, moet jy ‘n goeie vriend wees! ’n Goeie maat sal ’n speelding deel of vir iemand ’n drukkie gee wanneer hulle hartseer voel.
Wat kan jy vandag doen om ‘n goeie vriend te wees?
- Aktiwiteit
In ons Bybelstorie hierdie week het ons by Dawid en Jonathan geleer wat dit beteken om ‘n goeie vriend te wees. Goeie vriende help mekaar en is lief vir mekaar.
Hoe kan jy vandag ‘n goeie vriend wees?
Almal van ons kan goeie vriende wees as ons mekaar liefhet en help. Kom ons maak ‘n vriendskapsboom!
(Neem ‘n groot stuk papier of plakkaat, teken die buitelyn van ‘n boomstam en takke en skryf “Vriendskapsboom” bo- of onderaan. Help die kinders om hul hande met verskillende kleure te verf en hul handafdruk op die boom te plaas. Dan skryf elke kind se naam langs hul handafdruk en plak die plakkaat in die klas op.)