Tema: My sintuie: smaak en reuk

Bybelstorie: Manna en kwartels

Waarde: Vertrou op God se voorsiening

Manna en kwartels

God se mense, die Israeliete, was op ’n lang reis deur die woestyn. Hulle het geloop en geloop, maar sommer gou het hul mae gegrom van die honger. Die mense het bekommerd geraak en vir Moses gesê: “Ons is so honger!” Maar Moses het geweet dat God vir hulle sal sorg.

God het met Moses gepraat en gesê: “Sê vir my volk Ek sal vir hulle kos gee. Hulle moet op my vertrou.” Daardie aand was die lug skielik vol voëls wat kwartels genoem word. Die voëls het oral geland, en die mense kon heerlik eet.

Die volgende oggend toe hulle wakker word, het hulle iets wonderlik gesien wat oraloor op die grond gelê het. Dit was wit en lig, soos sneeu. “Wat is dit?” het die mense gevra. Moses het geglimlag en gesê: “Dit is die brood wat God vir ons gegee het. Dit word manna genoem. Neem net wat julle nodig het vir vandag en vertrou op God vir môre.”

Dag na dag het God manna in die oggend en kwartels in die aand voorsien. Die Israeliete het geleer dat God altyd vir hulle sou sorg. Hulle het geweet dat hulle op God kon vertrou om alles te voorsien wat hulle nodig het.

(Eksodus 16:1-36)

 

  1. Opening

Wat is jou gunsteling kos om te eet? Wat as jy elke oggend die voordeur kan oopmaak en jou gunsteling kos lê oral buite? Soveel soos wat jy kan eet! Dit sal wonderlik wees, né?

Vandag gaan ons leer van ’n keer wat dit regtig gebeur het!

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gesels oor hoe God vir die Israeliete kos gestuur het om in die woestyn te eet. Kom ons lees weer die storie.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Wat maak die meisie in haar mandjie bymekaar?

Hoe dink jy het die manna geproe?

Hoeveel voëls het die seuntjie gevang?

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).

Watter kos het God vir die Israeliete gegee om te eet?

Hoe dink jy het hulle gevoel toe hulle niks gehad het om te eet nie?

Wanneer voel jy so?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe God manna en kwartels voorsien het vir die Israeliete om te eet toe hulle in die woestyn was.

Die Israeliete was bekommerd, maar hulle het geweet dat hulle op God kon vertrou om vir hulle te voorsien – en Hy het! Onthou dat God jou gemaak het, en Hy het jou lief. Hy is altyd gereed om jou te help. Jy kan op Hom vertrou om alles te voorsien wat jy nodig het, elke dag. Al wat jy hoef te doen is om te vra.

Voel jy bekommerd oor iets? Kom ons bid en vra God om jou te help.

 

  1. Aktiwiteit

In ons Bybelverhaal hierdie week het ons geleer dat ons altyd kan vertrou dat God vir ons sal voorsien. Kom ons maak of ons die Israeliete is wat manna eet!

(Lê ’n plastiek tafeldoek op die vloer neer en sprinkel springmielies daaroor. Gee vir elke kind ’n houer/sakkie. Verduidelik dat die manna dalk soos springmielies gelyk het. Die Israeliete moes dit van die grond af optel en in houers sit vir elke gesin om te eet. Laat die kinders nou hul houer/sakkie met springmielies vul en eet dit saam. Bid en dank God vir Sy voorsiening.)