Tema: Alles oor my
Bybelstorie: God se spesiale plan
Waarde: Wees lief vir ander en help ander
‘n Spesiale plan
Themba en sy pappa sit onder ’n groot, skaduryke boom. Hulle was lief daarvoor om onder die boom se sterk takke te gesels, na die voëls te kyk en te luister na die blare wat in die wind ritsel.
“Pappa,” vra Themba en kyk op, “het God hierdie groot boom gemaak?”
“Ja, Themba,” antwoord sy pa met ’n glimlag. “God het hierdie boom gemaak – en die voëls, die blomme, en selfs vir jou!”
Themba se oë rek groot. “God het MY gemaak?” vra hy.
“Dis reg,” sê sy pa en gee vir Themba ’n sagte drukkie. “God het jou gemaak, en Hy het jou baie, baie lief. Jy is deel van Sy perfekte familie, en Hy is ons perfekte Vader.”
Themba glimlag groot en voel warm van binne. “Hoekom het Hy my gemaak, Pappa?” vra hy.
Sy pa glimlag en sê: “God het ’n spesiale plan net vir jou, Themba. Eendag sal jy wonderlike dinge doen en die wêreld ’n beter plek maak. Jy sal almal rondom jou liefhê en help. En soos jy groei, sal jy altyd deel van God se familie wees.”
Themba kyk weer na die boom. Hy voel veilig en geliefd. “Dankie, God,” fluister hy, “dat U my gemaak het, dat U my liefhet, dat U ’n spesiale plan vir my het, en dat U my Vader is.”
Terwyl hulle stil onder die groot boom sit, weet Themba hy is deel van iets wonderliks – God se familie – en dat God ’n wonderlike plan net vir hom het.
- Opening
Het jy ’n gunsteling Bybelstorie? Kan jy vir my vertel wat dit is?
Die Bybel is ’n wonderlike boek wat deur God geïnspireer is. In hierdie boek kan ons uitvind wie God is, wie ons is en waar ons hoort. Alles in die Bybel is waar.
Kom ons vind meer uit …
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor klein Themba en sy pa wat onder ‘n boom sit. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Wie is besig om die boek te lees?
Kom ons tel die kinders. Sien jy iemand wat soos jy lyk?
- Vertel weer die storie
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gepraat van klein Themba en sy pa wat onder ‘n boom sit. Kom ons lees weer die storie.
Wie het jou gemaak?
Hoe voel Hy oor jou?
Hoe laat dit jou voel?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe God jou gemaak het omdat Hy ‘n spesiale plan vir jou lewe het. God het jou gemaak omdat Hy ’n spesiale plan vir jou lewe het. Jy kan die wêreld ’n beter plek maak deur almal om jou lief te hê en te help. Hoe kan jy vir iemand wys dat jy lief is vir hulle?
God het jou ook deel van Sy familie gemaak. Hoe voel jy om te weet dat jy deel is van God se familie?
Kom ons bid en dank God, net soos Themba gedoen het: “Dankie, God dat U my gemaak het, dat U my liefhet, dat U ’n spesiale plan vir my lewe het en dat U my Vader is. Amen.”
- Aktiwiteit
In ons Bybelverhaal hierdie week het ons gesels oor hoe God ons gemaak het, ons liefhet en ‘n spesiale plan met ons lewens het. Vandag gaan ons iets maak om ons daaraan te herinner.
(Sny ’n hartvormige stuk papier vir elke kind. Gee die papier en kryte aan elke kind en vra hulle om hulself in die hart te teken. Laat die kinders ook die frase sing/sê: “God het my gemaak, God het my lief, God het ’n plan met my lewe.”)