Tema: My liggaam: Sport en speletjies
Bybelstorie: Hardloop ’n goeie resies
Waarde: Maak goeie keuses
Hardloop ‘n goeie resies
Voordat Jesus teruggegaan het hemel toe, het Hy vir Sy vriende ’n baie belangrike taak gegee om te doen. Hulle moes vir die wêreld vertel dat God hulle liefhet en dat Jesus gesterf en opgestaan het, sodat ons almal van ons sondes vergewe kan word. As gevolg van wat Jesus gedoen het, kan ons almal eendag hemel toe gaan.
Paulus was een van hierdie boodskappers. Hy het na baie dorpe gereis om vir mense van Jesus te vertel. Hy het ook briewe geskryf en raad gegee oor hoe om soos Jesus te lewe. Ons kan vandag nog Paulus se briewe in die Bybel lees.
Paulus sê ons is soos atlete wat ’n resies hier op aarde hardloop. Maar dit gaan nie net oor vinnig hardloop en sterk wees nie. Dit gaan daaroor om Jesus lief te hê en te doen wat reg is, selfs wanneer dit soms moeilik is.
Hy het gesê: “Laat ons die wedloop hardloop wat voor ons lê en nooit moed opgee nie. Ons moet alles uit ons lewens wegneem wat in ons pad staan, soos die sonde wat ons so maklik keer. Kom ons hou net ons oë op Jesus.”
Wil jy die goeie nuus weet? Wanneer ons Jesus liefhet en ophou om slegte dinge te doen, wag Jesus by die wenstreep vir ons om saam met Hom hemel toe te gaan. Wat ’n wonderlike prys!
(Hebreërs 12:1-2; 1 Korintiërs 9:24-25)
- Opening
Het jy al ooit in ‘n resies gehardloop? Wat kry mense as hulle ‘n resies voltooi?
In die Bybel lees ons dat almal van ons soos atlete is wat ‘n resies hier op aarde hardloop. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gepraat oor hoe almal van ons soos hardlopers is wat ‘n resies hardloop, met Jesus wat vir ons by die wenstreep wag. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Watter een van die mense op die prent gaan die wedloop wen?
Wie gaan tweede en derde wees?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Hoe voel jy as jy ‘n resies wen?
Wat kry jy as jy wen?
Sou jy halfpad deur die resies stop, of sou jy hard hardloop en dit voltooi?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe Jesus by die eindstreep van ons lewens is en wag dat ons by Hom in die hemel aansluit! Om die wedloop te hardloop, gaan daaroor om Jesus te volg en goeie keuses te maak.
Wat het Paulus gesê moet ons ophou doen?
Ja, ons moet ophou om slegte dinge te doen soos om vir ons ouers of onderwysers te lieg, ‘n vriend se speelding te vat of nie gehoorsaam te wees nie.
Wil jy eendag hemel toe gaan?
Wat is van die slegte dinge wat jy nie meer wil doen nie?
- Aktiwiteit
In ons Bybelstorie hierdie week het ons geleer dat Jesus vir ons wag om saam met Hom in die hemel te wees. Maar as ons hemel toe wil gaan, is daar iets wat ons moet doen.
Wat moet ons doen as ons saam met Jesus in die hemel wil wees?
Paulus het ook gesê dat ons nooit moed moet opgee nie. So al gebeur slegte dinge met ons, moet ons steeds vir Jesus liefhê en die regte ding doen.
Nou, kom ons kyk hoe goed is jy daarmee om ‘n resies te hardloop!
(Skep ‘n hindernisbaan met tafels, stoele, kussings, ens. Laat die kinders beurte maak om deur die hindernisbaan te hardloop/stap. Gee vir elke kind ‘n prys aan die einde van die wedloop, soos ‘n sterplakker of ‘n suigstokkie.)