Tema: Ontdek die wêreld deur boeke en stories
Bybelstorie: Jesus staan op uit die dood
Waarde: Vertrou op God se beloftes
Jesus staan op uit die dood!
God het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om aan die kruis te sterf, sodat ons vir ons sondes vergewe kan word. Nadat Jesus aan die kruis gesterf het, was Sy vriende baie hartseer. Hulle het Sy liggaam geneem en dit in ’n graf gesit. Die graf het ’n groot, swaar klip gehad wat voor die deur gerol was, sodat niemand kon in- of uitkom nie.
Jesus het vir sy vriende en volgelinge vertel dat Hy gaan sterf, maar belowe dat Hy weer lewendig sal word. Twee dae nadat Hy gesterf het, het twee vriendinne van Jesus genaamd Maria na Sy graf gegaan. Maar toe hulle daar aankom, was die klip weggerol en die graf was leeg. En voor die graf was ’n engel!
Die engel het gesê: “Moenie bang wees nie! Jesus is nie hier nie. Hy het uit die dood opgestaan, net soos Hy gesê het Hy sou.”
Watter wonderlike nuus! Jesus het die dood oorwin en was lewendig! Die vrouens was so opgewonde dat hulle gehardloop het om vir al hul vriende te gaan vertel. Op pad daarheen het Jesus self voor hulle verskyn en hulle gegroet. Hulle was so bly om Hom te sien dat hulle vooroor gebuig en Hom aanbid het. Toe sê Jesus vir hulle om vir al Sy vriende en volgelinge te gaan vertel dat Hy lewe.
(Matteus 28:1-10)
- Opening
Het iemand al vir jou goeie nuus vertel wat jou baie gelukkig gemaak het? Wat was dit?
Vandag gaan ons hoor van die beste nuus ooit wat baie mense gelukkig gemaak het en hoop gegee het. Kom ons lees die storie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor hoe Jesus uit die dood opgestaan het! Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Wat het jou verras in die storie?
Wie sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Wat het gebeur toe die vrouens by die graf kom?
Wat het die engel vir hulle gesê?
Hoe dink jy het die vrouens gevoel toe hulle die goeie nuus gekry het?
- Waarde
Hierdie week het ons geleer dat Jesus nie vir altyd dood was nie. Hy het uit die dood opgestaan en lewe – selfs vandag nog!
Kan jy vir my sê wat ’n belofte is?
Ja, wanneer jy ‘n belofte maak, beteken dit dat jy dit gaan doen wat jy gesê het jy gaan doen.
God het ons so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om aan die kruis te sterf sodat ons sondes vergewe kan word. Net soos Hy belowe het, het Jesus nie dood gebly nie – hy het opgestaan en Hy lewe! Watter slegte dinge ook al in jou lewe gebeur, jy kan altyd hoop hê en op God se beloftes vertrou. Hy is lief vir jou en gee om vir jou.
Met wie kan jy hierdie goeie nuus deel?
- Aktiwiteit
Die vrouens in die storie het vir almal die goeie nuus gaan vertel.
Dink jy jy kan hierdie goeie nuus met ander gaan deel?
Kom ons kyk of ons ’n paar aksies kan uitdink om ons te help om hierdie storie te vertel!
(Gaan weer deur die storie en laat die kinders help om verskillende handbewegings en aksies uit te dink wat sal help om elke deel van die storie te onthou. Laat hulle die aksies saam doen terwyl jy weer die storie lees.)