Tema: Seisoene: Herfs

Bybelstorie: Jesus sterf vir ons sondes

Waarde: Vergifnis

Jesus sterf vir ons sondes

Die Bybel leer ons dat Jesus die Seun van God is, wat ons van ons sonde kom red het, omdat Hy so lief is vir ons. Maar toe Jesus hier op aarde was, het die Joodse leiers nie van Hom gehou nie. Hulle wou van Hom ontslae raak, want hulle het nie gehou van die dinge wat Hy gesê het nie.

En hul plan het gewerk. Al het Jesus nooit iets verkeerd gedoen nie, het soldate Hom gevang, aan ’n houtkruis gehang en spykers deur Sy hande en voete gekap. Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het die soldate en Joodse leiers Hom gespot. Hulle het gesê as Hy regtig die Seun van God is, kan Hy Homself mos red. Maar hulle het nie besef dat Sy dood deel was van God se plan om ons van ons sonde te red nie.

Al is Jesus so sleg behandel, het Hy gebid vir die mense wat Hom seergemaak het: “Vader, vergewe hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Dieselfde tyd is twee diewe langs Jesus gekruisig. Een het saam met die ander vir Jesus gespot. Maar die ander man het in Jesus geglo en was jammer oor alles wat hy verkeerd gedoen het. Voordat Jesus gesterf het, het Hy vir die tweede man gesê: “Vandag sal jy saam met My in die hemel wees.” Hy het hom vergewe. En omdat Jesus ons vergewe, kan ons ander ook vergewe!

(Lukas 23:26-43)

 

  1. Opening

Het jy al ooit iets lekker vir iemand anders gedoen? Miskien het jy vir ’n maat ’n drukkie gegee? Of iets met jou boetie of sussie gedeel?

Vandag gaan ons hoor hoe Jesus iets wonderliks vir ons gedoen het! Jesus het die straf vir ons sondes geneem, sodat ons vergewe kan word. Kom ons lees die storie.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gepraat oor hoe God ’n plan gemaak het vir ons om vergewe te word! Kom ons lees weer die storie.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Wat was een ding in die storie wat vir jou ’n verrassing was?

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).

Die soldate het Jesus baie seergemaak. Waar het hulle hom laat sterf?

Wat het Jesus vir die man aan die kruis belowe wat jammer was?

Is dit nie wonderlik dat ek en jy net soos hierdie man vergewe kan word nie!

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe Jesus aan die kruis gesterf het, sodat ons vergewe kan word. Die man langs Jesus het in Hom geglo en jammer gesê vir sy sondes.

Wat het Jesus die man belowe?

Wat belowe Jesus vir jou en my as ons in Hom glo?

Omdat Jesus ons vergewe, dink jy ons moet ander mense ook vergewe?

 

  1. Aktiwiteit

Omdat Jesus ons vergewe, kan ons almal om ons vergewe. Dit is nie altyd maklik nie, maar ons moet probeer.

Wat is van die dinge waarvoor ons ons maats kan vergewe?

Vandag gaan ons almal ’n kruis maak om huis toe te neem. Dit herinner ons dat Jesus aan die kruis gesterf het, sodat ons sondes vergewe kan word.

(Neem twee stokkies en help die kinders om dit met ’n tou of kleefband aan mekaar vas te bind om ’n kruisie te maak. Jy kan enige stokkies gebruik.)