Tema: Vervoer: Land
Bybelstorie: Jesus en die donkie
Waarde: Wees dankbaar
Jesus en die donkie
Jesus, die Seun van God, het baie wonderlike dinge gedoen toe Hy op aarde was. Hy het mense gesond gemaak wat siek was, blindes laat sien en vir baie honger mense kos gegee.
Eendag was Jesus en Sy vriende op pad na ’n groot stad genaamd Jerusalem. Hy het vir twee van Sy vriende gesê: “Gaan na die dorpie daar voor. Daar sal julle ’n jong donkie vind wat vasgebind is. Bring dit vir my.” Die vriende het gedoen soos Jesus gevra het. Hulle het die donkie gekry en dit na Jesus gebring.
Jesus het op die donkie gaan sit en by Jerusalem ingery. Toe Hy die stad binnegery het, het ’n groot groep mense saamgedrom. Hulle was so bly om Jesus te sien!
Hulle het hul jasse uitgetrek en dit op die pad neergelê. Hulle het ook palmtakke opgetel en dit in die lug geswaai en geskreeu: “Hosanna! Hosanna! Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here!”
Die woord Hosanna beteken “Red ons asseblief!” Die mense het dit geskree omdat hulle geweet het dat Jesus spesiaal is en dat Hy deur God gestuur is om hoop na die wêreld te bring. Hulle het Jesus geëer deur Hom soos ’n koning te behandel. Selfs die kinders het saam gejuig, hul takke geswaai en lofliedere gesing.
(Matteus 21:1-11)
- Opening
Het jy al ooit ‘n donkie gesien? Hoe lyk dit? Watter geluid maak dit?
In die Bybelse tyd het mense op donkies gery vir vervoer. Vandag gaan ons leer van ‘n spesiale donkie en ‘n groot feesviering. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor hoe Jesus op ‘n donkie by die stad Jerusalem ingery het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Hoeveel palmtakke sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Hoe dink jy het die mense gevoel toe hulle Jesus gesien het?
Hoe voel jy wanneer iemand spesiaal by jou kom kuier?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor Jesus en die donkie.
Hoekom het die mense hul jasse en palmtakke voor Jesus op die grond neergesit?
Kan jy onthou wat hulle geskree het toe Jesus verbygestap het?
Wat beteken die woord Hosanna?
Die mense het geweet dat Jesus ’n geskenk van God was om hoop en liefde na die wêreld te bring. Hulle het gewys dat hulle dankbaar is deur Jesus te eer en te prys. Jy kan ook vir God wys dat jy dankbaar is deur ander lief te hê, vriendelik te wees en vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir jou doen.
Waarvoor is jy vandag dankbaar? Kom ons bid en sê vir God dankie.
- Aktiwiteit
In ons Bybelstorie hierdie week het die mense hul dankbaarheid aan Jesus gewys deur palmtakke op die grond te gooi en vir Jesus te sing en prys.
Waarvoor is jy vandag dankbaar?
Kom ons maak ons eie wonderlike wandelpad vir God.
(Laat die kinders papier in die vorm van palmblare uitsny. Sodra hulle klaar is, skep ’n wandelpad deur die blare op die vloer te pak. Laat die kinders om die beurt maak asof hulle Jesus is wat deur die wandelpad ry terwyl die ander “Hosanna! Hosanna!” skree.)