Tema: My familie
Bybelstorie: Die verlore seun kom terug
Waarde: Maak goeie keuses
Die verlore seun kom terug
Toe Jesus, die Seun van God, op aarde was, het Hy stories vertel om mense te help om belangrike dinge te verstaan. Eenkeer het Hy ’n storie vertel van ’n man met twee seuns.
Die jonger seun het gesê: “Pa, gee asseblief my deel van pa se geld nou al.” Die pa het dit vir hom gegee. Die seun het sy goed gepak, die huis verlaat en al sy geld op simpel goed spandeer.
Gou het hy niks meer oorgehad nie. Hy het geen huis gehad nie en het ’n werk gekry om varke voer, maar was self baie honger. Hy was jammer oor die slegte keuses wat hy gemaak het en het besluit om vir sy pa jammer te gaan sê.
Toe die seun nog aangestap kom na sy huis, het die pa na sy seun toe gehardloop en hom omhels en gesoen. Die seun het gehuil en gesê: “Pa, ek is so jammer. Ek verdien nie om pa se seun te wees nie.” Maar die pa was so bly om hom te sien! Hy het gesê: “Bring vir hom die beste klere en sandale! Kom ons hou ’n groot partytjie! My seun was verlore, maar nou is hy gevind.”
Deur hierdie verhaal leer Jesus ons dat, maak nie saak watter slegte keuses ons maak nie, God sal ons altyd by Hom terug verwelkom en vergewe wanneer ons jammer sê.
(Lukas 15:11-32)
- Opening
Het jy al ooit in die moeilikheid beland vir iets wat jy verkeerd gedoen het?
Dit kan met enige een van ons gebeur, en dit het met iemand gebeur in ’n storie wat Jesus vertel het. Kom ons lees die storie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die verlore seun wat terug huistoe gegaan het. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Wat het jou verras in die storie?
Wie sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Watter slegte keuse het die seun gemaak?
Watter goeie keuse het hy gemaak?
Hoe het die seun gevoel toe sy pa vir hom ‘n drukkie gegee het?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor die verlore seun wat slegte keuses gemaak het.
Kan jy my vertel van ‘n keer toe jy ‘n slegte keuse gemaak het?
Wat het toe gebeur?
Al doen jy soms slegte dinge, sal God jou altyd liefhê en jou vergewe. Wanneer jy ‘n fout maak, kan jy altyd ‘n goeie besluit maak deur vir God en ander jammer te sê en dinge reg te maak.
Is daar iets waaroor jy sleg voel en waarvoor jy jammer moet sê? Kom ons bid en vra God om jou te vergewe.
- Aktiwiteit
Die verlore seun het eers ’n slegte keuse gemaak, en toe het hy ’n goeie keuse gemaak. Wat was daardie keuses?
Wat het gebeur toe hy ’n slegte keuse gemaak het?
Wat het gebeur toe hy ’n goeie keuse gemaak het?
Dit is belangrik dat ons elke dag die regte keuses maak. Vandag gaan jy my help om te besluit wat goeie keuses en slegte keuses is.
(Noem voorbeelde van goeie keuses en slegte keuses. Laat die kinders hul duime opwaarts wys en juig as dit ’n goeie keuse is en hul duime afwaarts wys as dit ’n slegte keuse is. Voorbeelde: gooi jou rommel in die asblik, stamp ’n maat of luister na jou juffrou.)