Tema: Op die plaas
Bybelstorie: Die goeie herder
Waarde: Vertrou op God se beskerming
Die goeie herder
Toe Jesus, die Seun van God, op aarde was, het Hy stories vertel om mense te help om belangrike dinge te verstaan. Eenkeer het Hy ’n storie vertel van ’n herder wat sy 100 skape liefgehad en mooi versorg het. Die herder het elke dag seker gemaak dat hulle genoeg kos en water het, en veilige skuiling in die aand.
Een oggend het die herder sy skape getel … 1… 2 … 3 … tot by 98 … 99 … maar o, nee! Een skaap was weg! Waar was die skapie?
Die herder was bekommerd. Hy was lief vir al sy skape en hy het geweet hy moes die verlore skapie vind. Hy het toe sy 99 ander skape agtergelaat om die verlore een te gaan soek.
Die klein skapie het van die ander af weggedwaal en bang gevoel, maar die herder het aangehou soek. Toe hy uiteindelik die verlore skaap agter ’n paar bossies vind, was hy so bly! Hy het vir die klein skapie ’n stywe drukkie gegee en gesê: “Ek is so lief vir jou. Ek is bly ek het jou gevind!” Hy het die skapie opgetel en op sy skouers gedra tot by die huis.
Jesus het hierdie storie vertel om vir ons te leer dat God soos ’n herder is wat elkeen van ons liefhet en vir ons omgee. Ons is almal spesiaal vir God.
(Matteus 18:10-14)
- Opening
Kan jy ‘n paar plaasdiere opnoem?
Watter geluide maak hulle?
Vandag gaan ons leer van ‘n klein skapie wat weggeraak het. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die klein skapie wat weggeraak het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Hoeveel skape sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Hoe voel jy wanneer jy iets verloor waarvoor jy regtig omgee, soos jou gunsteling speelding?
Wat sou jy doen as dit wegraak?
Die herder het reeds 99 ander skape gehad. Hoekom het hy hulle agtergelaat om die een verlore skapie te vind?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe die herder sy 99 skape gelos het om een verlore skaap te gaan soek. Die klein skapie moes regtig hartseer of bang gevoel het. Wanneer voel jy hartseer of bang?
In hierdie verhaal herinner Jesus ons daaraan dat God ons liefhet en altyd daar sal wees vir ons. Ons kan Hom met enigiets vertrou!
Waarmee kan jy vandag vir God vertrou om jou te help?
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het ons geleer dat, net soos die herder, het God elkeen van ons so lief dat Hy enigiets sal doen om ons te help. Ons kan altyd op Hom vertrou.
Vandag gaan ons die herder wees wat die verlore skaap soek!
(Voor die les, steek ‘n speelding iewers in die klas weg. Laat die kinders dit soek, en gebruik woorde soos “warmer” wanneer hulle naby kom of “kouer” as hulle verder weg is. Die kind wat die speelding kry, kan het ‘n kans om dit weg te steek, terwyl die ander hul oë toemaak.)