Tema: Gevoelens en emosies: Kinderrregte
Bybelstorie: Die goeie Samaritaan
Waarde: Wees lief vir ander en help ander
Die storie van die gawe man
Eendag het Jesus mense geleer hoe om lief te wees vir God en vir ander mense. Iemand het gevra: “Aan wie moet ons liefde wys?”
Jesus het ’n storie vertel van ’n man wat langs ’n pad geloop het toe ’n paar rowers agter ’n bos uitspring en hom seermaak. Hulle het alles wat hy gehad het gevat, weggehardloop en hom op die grond laat lê. Die man het baie seergekry en het hulp nodig gehad.
Terwyl hy daar gelê het, het hy voetstappe gehoor en gedink: “Iemand kom my help!” Maar pleks daarvan om te help, het die persoon vinnig verbygeloop. Toe kom ’n ander man daar verby. Hy het ook die beseerde man gesien, maar weggestap sonder om te help.
Toe kom ’n Samaritaanse man in die pad af. Mense het nie verwag dat Samaritane sou help nie, maar hierdie man het gestop. Hy het die beseerde man jammer gekry. Hy het sy wonde saggies verbind, hom op sy donkie gesit en hom na ’n veilige plek geneem om te rus. Hy het selfs iemand betaal om vir die man te sorg totdat hy beter was.
Toe Jesus hierdie storie klaar vertel het, het Hy vir die mense gevra: “Wie van hierdie drie mans het liefde betoon aan die beseerde man?” Hulle het geantwoord: “Die een wat die beseerde man gehelp het.”
Toe sê Jesus: “Gaan wys julle nou ook aan ander liefde soos die Samaritaan gedoen het.”
(Lukas 10:25-37)
- Opening
Wie is jou maats? Hoekom is hulle jou maats?
Meeste van die tyd is dit maklik om gaaf te wees teenoor ons maats. Maar vandag gaan ons lees van ’n gawe man wat iemand gehelp het wat nie sy vriend was nie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die vriendelike man wat die beseerde man gehelp het. Kom ons lees weer die storie.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Hoe dink jy het die beseerde man gevoel toe die gawe man hom gehelp het?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Het jy al ooit seergekry of hulp nodig gehad? (Vra vir voorbeelde)
Hoe het dit gevoel toe iemand jou gehelp het?
- Waarde
Ons het hierdie week gesels oor die vriendelike man wat die beseerde man gehelp het.
Het die gawe man die beseerde man geken?
Hoekom dink jy het die gawe man hom gehelp?
Hy het die beseerde man jammer gekry, maar hy het ook vir hom omgegee en was lief vir hom. Jesus wil hê dat ons liefde en vriendelikheid moet betoon teenoor enige iemand wat ons hulp nodig het; nie net teenoor ons vriende of familie nie.
- Aktiwiteit
In ons storie hierdie week het Jesus die verhaal vertel van die vriendelike man wat liefde betoon het aan ’n man wat hy nie geken het nie.
Hoef ons net lief te wees vir mense wat ons ken?
Hoe kan ons liefde en vriendelikheid aan mense rondom ons wys?
(Maak ’n eenvoudige kunswerk deur die kind se hand op ’n vel papier na te trek. Teken of knip en plak ’n hart in die middel van die hand. Terwyl julle dit maak, herinner die kinders dat hulle liefde aan ander kan betoon deur hulle te help.)