Tema: Ontdek die wêreld van syfers

Bybelstorie: Twee vissies en vyf brode

Waarde: Vertrou op God se voorsiening

Twee vissies en vyf brode

Eendag het Jesus met ’n groot groep mense gepraat. Almal was opgewonde om Hom te hoor wat Hy alles sê! Hulle het heeldag geluister, en gou was dit etenstyd. Maar daar was ’n probleem: almal was honger, en daar was nie kos nie.

Toe kom ’n seuntjie na Jesus toe met sy middagete. Hy het net vyf klein broodjies en twee klein vissies gehad. Dit was nie baie kos nie, maar hy wou dit graag deel.

Jesus het geglimlag en die seun se geskenk geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die kos. Toe gebeur iets wonderliks! Terwyl Jesus en Sy vriende die brood en vis begin uitdeel het, het die kos nie opgeraak nie! Almal het genoeg gehad om te eet. Daar was duisende mense, en niemand was honger aan die einde nie.

Toe almal versadig was, het Jesus se vriende die oorskiet bymekaargemaak. Hulle het 12 groot mandjies vol kos ingesamel! Alles van die seuntjie se twee vissies en vyf brode.

Jesus het vir almal gewys dat God wonderlike dinge kan doen. God kan klein goedjies in groot seëninge verander wanneer ons op Hom vertrou om vir ons te voorsien!

(Matteus 14:13-21)

 

  1. Opening

Was jy al eenkeer baie honger? Het jou maag gegrom?

Wat is jou gunsteling kos om met maats te deel?

Vandag gaan ons leer van ‘n baie spesiale ete. Kom ons lees die Bybelverhaal.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gesels oor hoe Jesus vir duisende mense kos gegee het, net uit ‘n klein seuntjie se kosblik. Kom ons lees weer die Bybelstorie.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Kan jy vir my die vis op die foto wys? Kom ons tel hulle.

Nou, kom ons tel die brode.

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)

Wat het Jesus gedoen voordat hy die kos begin uitdeel het?

Hoe dink jy het die honger mense gevoel toe God vir hulle kos gegee het?

Wanneer voel jy so?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe Jesus ‘n wonderlike ding gedoen het. Hy het kos voorsien vir duisende honger mense, van net twee klein vissies en vyf brode.

Hoe dink jy het die mense gevoel toe hulle honger was en nie geweet het wat om te doen nie?

Voel jy ook soms bekommerd of bang?

Wanneer jy so voel, kan jy altyd vir God vra om jou te help. Hy is jou perfekte Pappa en sal altyd daar wees om jou te help en vir jou te voorsien.

Hoe kan God jou vandag help? Kom ons bid en vra Hom om jou te help.

 

  1. Aktiwiteit

In ons Bybelverhaal hierdie week het Jesus twee vissies en vyf broodjies meer gemaak en só kos vir duisende mense gegee. God het vir ons gewys dat ons altyd op Hom kan vertrou om vir ons te voorsien.

Hoe het God vir die mense in ons verhaal voorsien?

Is jy bekommerd of bang oor enigiets? Kom ons bid saam en vra God om jou vandag daarmee te help.

(Hou ‘n piekniek met brood en enigiets wat soos ‘n vis gevorm is, byvoorbeeld visvormige malvalekkers, pretzels, ens. Bid, dank God vir die kos, breek die brood in stukkies en deel die kos onder die kinders. Gesels oor die Bybelverhaal en hoe God elke dag vir ons voorsien.)