Tema: Seisoene: Winter
Bybelstorie: Jesus maak die storm stil
Waarde: Vertrou op God se beskerming
Jesus maak die storm stil
Een aand het Jesus Sy dissipels geroep om saam met Hom in ’n boot te klim. Hulle klim toe saam met Jesus in die boot om oor ’n groot meer te vaar.
Skielik het ’n baie sterk wind begin waai en die branders het teen die boot begin klap. Daar was ’n groot storm! Die golwe was yslik groot en skrikwekkend, en die boot het vol water geraak.
Maar Jesus was agter in die boot, vas aan die slaap. Sy dissipels was baie bang. Hulle het vir Jesus gaan wakker maak en vir Hom gesê: “Jesus, gee u nie om of ons verdrink nie?”
Jesus het opgestaan en die wind en die golwe beveel om op te hou. Hy het gesê: “Stop! Wees stil!” En die storm het opgehou. Toe vra Jesus vir Sy dissipels: “Hoekom is julle so bang? Waar is jul geloof?”
Sy dissipels was verstom daaroor dat Jesus die storm stil gemaak het. Almal van hulle het geweet dat Hy baie spesiaal was. Jesus moes beslis die Seun van God wees. Hy is die enigste een vir wie die golwe en die wind ooit kon luister.
(Markus 4:35-41)
- Opening
Het jy al ooit ‘n groot storm gesien?
Was jy bang toe jy die wind en reën hoor?
Vandag gaan ons hoor hoe Jesus ‘n baie groot storm bedaar het, net deur dit te bevel om op te hou. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor ‘n groot storm en hoe Jesus dit laat bedaar het net deur dit te beveel om op te hou. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Wat was een ding wat jou verras het in die storie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Wat was besig om rondom Jesus te gebeur terwyl Hy in die boot geslaap het?
Wat het Jesus gedoen toe Sy dissipels Hom wakkermaak?
Wie dink jy is sterker, Jesus of die storm?
- Waarde
Hierdie week het ons geleer hoe ons op Jesus kan vertrou.
Hoe het die dissipels gevoel toe hulle die groot storm sien?
Wanneer voel jy bang?
Wat het met die storm gebeur toe Jesus gesê het dit moet stop?
Moes die dissipels Jesus vertrou het in plaas daarvan om bang te wees?
Ons kan Jesus vertrou, want Hy is magtig oor alles. Selfs die wind en golwe luister na Hom!
Waarmee kan Jesus jou vandag help? Kom ons bid en vra Hom om jou daarmee te help.
- Aktiwiteit
Selfs wanneer ons bang is, kan ons op Jesus vertrou, want Hy is magtig oor alles.
Vandag gaan ons ‘n speletjie speel om ons storie te onthou.
(Kies een kind om die rol van Jesus te speel. Almal moet ronddans en maak asof hulle groot golwe of strome wind is. Wanneer die leier skree, “Stop!” moet almal vries en niemand mag beweeg nie. As jy beweeg, is jy uit vir daardie rondte. Die laaste persoon in die speletjie kan die leier in die volgende rondte wees.)