Tema: My land: Suid-Afrika
Bybelstorie: Jesus was Sy vriende se voete
Waarde: Wees lief vir ander en help ander
Jesus was Sy vriende se voete
Jesus, die Seun van God, het baie wonderlike dinge gedoen toe Hy op aarde was. Hy het mense gesond gemaak wat siek was, blindes laat sien en baie honger mense gevoed.
Eendag het Jesus en Sy spesiale vriende, die dissipels, saam geëet. Jesus was baie lief vir sy vriende. Hy wou vir hulle wys hoe om ander mense lief te hê.
Nadat hulle geëet het, het Jesus iets gedoen wat almal verras het. Hy het opgestaan, ’n handdoek geneem en water in ’n bak gegooi. Toe het Hy voor Sy vriende gekniel. Weet jy wat het Hy volgende gedoen? Hy het hul voete begin was!
Destyds het mense sandale gedra en hul voete het baie vuil geword as hulle op stofpaaie loop. Gewoonlik het ’n dienskneg hul voete gewas, maar Jesus, hul leermeester, het besluit om dit self te doen.
Een van Sy vriende, Petrus, was baie verbaas. “Jesus, U moenie my voete was nie!” het Petrus gesê. Maar Jesus het vir hom gesê: “Jy sal nie nou verstaan nie, maar jy sal later verstaan.”
Nadat Jesus klaar al Sy vriende se voete gewas het, het Hy verduidelik: “Ek het dit gedoen om vir julle iets belangrik te leer. Net soos ek julle voete gewas het, moet julle mekaar ook liefhê en help.”
(Johannes 13:1-17)
- Opening
Wys vir die kinders ‘n paar sandale of plakkies en vra:
Wat het ek hier in my hand? Wat gebeur as ek met my sandale in die modder of grond loop?
In die Bybelse tyd het mense nie reënstewels of tekkies gehad om hul voete te beskerm nie. Hulle het net sandale gedra, wat beteken het dat hul voete baie vuil geword het.
Vandag gaan ons lees van ‘n tyd toe Jesus, die Seun van God, Sy vriende se vuil, stink voete gewas het! Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gepraat oor hoe Jesus Sy vriende se voete gewas het. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Wys vir my waar is Jesus in die prentjie?
Hoeveel sandale sien jy in die prentjie?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Hoe dink jy het Jesus se vriende gevoel toe Hy hulle voete gewas het?
Vertel my van ‘n keer toe iemand iets spesiaals vir jou gedoen het?
Hoe het jy gevoel toe iemand jou gehelp het of vir jou ‘n spesiale geskenk gegee het?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe Jesus Sy vriende se voete gewas het.
Hoekom het Jesus sy vriende se voete gewas?
Sou jy graag jou vriende se vuil, stink voete wou was?
Jesus het vir ons gewys dat om ander lief te hê, moet ons hulle dien en help, selfs wanneer ons soms nie lus is daarvoor nie. Ons kan net soos Jesus ons liefde aan ander wys deur ons speelgoed te deel, vriendelik te wees teenoor maats en ons ouers in die huis te help.
Wat is een manier waarop jy vandag vir iemand kan wys dat jy lief is vir hulle?
- Aktiwiteit
In ons Bybelstorie hierdie week het Jesus vir ons gewys hoe belangrik (en maklik!) dit kan wees om liefde te wys aan ons familie, vriende en selfs aan mense wat ons nie ken nie.
Hoe kan jy vir mense om jouwys dat jy lief is vir hulle?
Vandag gaan ons wys hoe lief ons vir mekaar is, net soos Jesus gedoen het. Ons gaan mekaar se voete was!
(Berei vooraf ‘n bak, waslap, handdoek en sitplek voor. Sit rustige aanbiddingsmusiek op en laat die kinders in ‘n ry staan om hul voete te laat was. Help die kinders, sodat die eerste kind die tweede kind se voete afvee. Die eerste kind skuif na die agterkant van die ry, die tweede kind vee die derde kind se voete af en so aan, totdat al die kinders se voete gewas is).