Tema: Seisoene: Lente
Bybelstorie: Moenie bekommerd wees nie
Waarde: Vertrou op God se voorsiening
Moenie bekommerd wees nie
Jesus, die Seun van God, het baie wonderlike dinge gedoen toe Hy op aarde was. Hy het mense genees wat siek was, blindes laat sien en vir baie honger mense kos gegee.
Eenkeer het Jesus op ’n groot heuwel gesit en met baie mense gepraat. Hy wou vir hulle iets baie belangriks leer. “Moenie bekommerd wees nie,” het hy met ’n vriendelike glimlag gesê. “God is baie lief vir julle!”
Jesus het rondgekyk na die pragtige blomme wat in die veld blom. “Kyk na die blomme,” het Hy gesê. “Hulle bekommer hulle nie oor wat hulle sal aantrek nie. God trek hulle aan in die mooiste kleure, beter as ’n koning se klere! As God vir die blomme sorg, hoeveel meer sal Hy vir jou sorg?”
Toe wys Jesus na die voëls wat in die lug vlieg. “Is die voëls bekommerd oor waar hul kos vandaan kom? Nee! Hulle vertrou God om elke dag vir hulle te gee wat hulle nodig het. Jy is meer spesiaal vir God as die voëls. Hy sal altyd vir jou voorsien.”
Die mense het mooi geluister. Jesus het vir hulle gesê: “In plaas daarvan om bekommerd te wees, bid en vertrou eerder op God. Hy weet wat jy nodig het. Net soos Hy vir die blomme en voëls sorg, sal Hy ook vir jou sorg!”
(Matteus 6:25-34)
- Opening
(Wys die prent vir die kinders)
Kyk na hierdie mooi voël! En hierdie pragtige blomme! God het hulle gemaak.
Dink jy God het hulle lief? Ja, Hy het! En raai wat? Hy het ons nog meer lief!
In ons Bybelverhaal vandag gaan ons leer hoe God ons selfs meer spesiaal gemaak het as die blomme en die voëls. Kom ons lees die Bybelverhaal.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor hoe God na ons omsien, net soos Hy vir die blomme en die voëls sorg. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.
Wat is jou gunsteling deel van die storie?
Watter kleure is die blomme in die prentjie?
Wie het hulle so mooi gemaak?
Hoeveel voëls sien jy in die prentjie? Wat eet hulle?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)
Wie sorg vir die blomme en die voëls?
Wat het Jesus gesê, waaroor moet ons nie bekommerd wees nie?
- Waarde
Hierdie week het ons geleer dat Jesus nie wil hê dat ons oor enigiets bekommerd moet wees nie, en dat ons moet vertrou dat God vir ons sal voorsien.
Kan jy dink aan ‘n keer toe jy bekommerd was?
Wat kan jy doen in plaas daarvan om bekommerd te wees?
God het ons baie lief en is altyd gereed om ons te help en vir ons te voorsien. Wanneer ons bekommerd voel, moet ons net vir God bid, Hom vra om ons te help en vertrou dat Hy sal.
Hoe laat dit jou voel om te weet dat God vir jou sorg?
Waaroor is jy vandag bekommerd? Kom ons bid en vra God om jou te help.
- Aktiwiteit
In ons Bybelverhaal hierdie week het ons geleer dat ons oor niks bekommerd hoef te wees nie. Wanneer ons bekommerd voel, kan ons bid en vertrou dat God vir ons sal voorsien.
Hoe kan ons wys dat ons God vertrou?
Ja, ons kan bid en ophou bekommerd wees oor dinge.
Kom ons maak pragtige blomme om ons te herinner dat ons altyd op God kan vertrou om vir ons te voorsien.
(Gee vir elke kind ‘n stuk papier en kryte, en laat hulle blomme teken. Terwyl hulle teken, herinner hulle dat God vir ons sorg, net soos Hy na die blomme omsien.)