Tema: My liggaam: Gebruik sintuie om te beweeg en balanseer

Bybelstorie: Die man wat nie kon loop nie

Waarde: Vertrou op God se genesing

Die man wat nie kon loop nie

Baie jare gelede, in ’n klein dorpie, was daar ’n man wat nie kon loop nie. Sy bene kon nie beweeg nie, en hy het hartseer gevoel omdat hy nie saam met sy vriende kon rondhardloop nie.

Sy vriende het gehoor van Jesus, ’n man wat wonderlike dinge kon doen. Hulle het geglo dat Jesus hulle vriend weer kon help om te loop. Hulle het hom toe gedra tot by die huis waar Jesus besig was om vir mense van God te vertel.

Maar toe hulle daar aankom, was die huis so stampvol dat hulle nie kon inkom nie! Die man se vriende het nie moed opgegee nie. Hulle het op die dak geklim, ’n gat in die dak gemaak en hul vriend laat afsak na waar Jesus was.

Jesus het die man en sy vriende gesien en Hy het geglimlag. Hy kon die vertroue en geloof in hulle harte voel. Jesus sê toe vir die man: “Jou sondes is vergewe. Staan op en loop!”

Die man het dadelik gevoel hoe sy bene weer sterk word. Hy het opgespring, sy mat opgetel en huis toe gegaan, terwyl hy God loof en prys! Al die mense was vol verwondering en het God geprys, ook sy vriende. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien!”

(Lukas 5:17-26)

 

  1. Opening

Wat kan jy met jou lyfie doen?

Kom ons spring, hardloop op die plek en dans!

Vandag gaan ons hoor van ’n man wat nie kon loop of enige van hierdie dinge kon doen nie. Kom ons lees die Bybelstorie.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het geleer van die man wat nie kon loop nie! Kom ons lees weer die storie.

Wat was vir jou die lekkerste deel van die storie?

Hoe dink jy het die man gevoel nadat Jesus hom genees het?

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).

Het jy al ooit hulp nodig gehad, soos die man wat nie kon loop nie? (Vra vir voorbeelde)

Wat het jy toe gedoen?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe Jesus die man genees het wat nie kon loop nie. Sy vriende het ook iets gedoen wat belangrik was.

Kan jy vir my sê wat hulle gedoen het?

Hoekom het sy vriende hom na Jesus toe geneem?

Sy vriende het Jesus vertrou om hom te genees.

Waarmee kan jy vir Jesus vertrou om jou te help?

 

  1. Aktiwiteit

Die verlamde man het wonderlike vriende gehad. Hulle het vertrou dat Jesus hulle vriend kon genees.

Wat het gebeur toe hulle Jesus vertrou het?

Wanneer ons Jesus vertrou, gebeur wonderlike dinge.

Kom ons kyk of jy jou vriende ook kan vertrou!

(Neem ’n kombers en laat die kinders in pare ’n sagte speelding op die kombers deur die vertrek dra, soos toe die vriende die verlamde man gehelp het. Praat oor hoe baie die man se vriende vir hom omgegee het en op Jesus vertrou het om hom gesond te maak.)