Tema: Speel met vorms
Bybelstorie: Die Bethlehem-ster
Waarde: Volg God se leiding
‘n Helder ster wys die weg aan
Baie jare gelede, in ’n land in die ooste, was daar drie wyse manne wat die sterre bestudeer het. Een nag het hulle ’n baie helder ster in die lug sien skyn. Hulle het geweet hierdie spesiale ster beteken dat ’n Koning gebore is, soos God baie jare voor dit belowe het. Hulle besluit toe om die ster te volg om Hom te vind. Hulle het hul kamele gepak en op ’n lang reis vertrek.
Die ster het hulle tot by die stad Betlehem gelei. Toe hulle daar aankom, het hulle Maria en Josef met baba Jesus, die Seun van God, gevind. Jesus is gebore om liefde en hoop vir almal te bring. Hulle het geweet hierdie baba was die kosbaarste geskenk wat God ooit aan die wêreld sou gee. Die wyse manne was so gelukkig! Hulle het neergebuig en Hom aanbid. Hulle het ook vir Jesus wonderlike geskenke gegee.
Koning Herodes het vir die wyse manne gevra om vir hom te kom vertel waar Jesus is, want hy wou vir Jesus seermaak. Maar God het met die wyse manne in ’n droom gepraat en vir hulle gesê om nie terug te gaan na die nare koning Herodes nie. Hulle het na God se leiding geluister en met ’n ander pad huis toe gegaan, sodat Jesus veilig kon wees.
(Matteus 2:1-12)
- Opening
Het jy al ooit in die aand opgekyk na die lug en die helder sterre gesien?
Vandag gaan ons gesels oor ’n belangrike ster wat mense reg na baba Jesus gelei het. Kom ons lees die storie.
- Ontdek
Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?
Ja, ons het gesels oor die helder ster wat die wyse manne gelei het. Kom ons lees weer die storie.
Wat was jou gunsteling deel van die storie?
Watter vorms sien jy in die prent?
Hoe voel jy wanneer iemand vir jou ’n geskenk gee?
- Vertel weer die storie
Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik).
Hoe het die wyse manne gevoel toe hulle Jesus gesien het?
Wanneer voel jy gelukkig of opgewonde?
- Waarde
Hierdie week het ons gesels oor hoe die helder ster die wyse manne na Jesus gelei het.
Wat sou gebeur het as hulle nie die ster gevolg het nie? Hulle sou iets wonderliks gemis het!
Net soos die ster, het jy ouers en onderwysers wat jou lei en leer om altyd die regte ding te doen.
Watter dinge vra jou ouers en onderwysers jou om te doen?
- Aktiwiteit
Die helder ster het die wyse manne gewys wat die regte pad is wat hulle moet loop om by Jesus uit te kom. Ons kan elke dag kies om gehoorsaam te wees en te doen wat ons ouers en onderwysers ons vra om te doen. Kom ons kyk nou of jy my leiding kan volg!
(Speel die “Simon sê”-speletjie. Verduidelik aan die kinders dat jy vir hulle opdragte gaan gee, wat met die woorde “Simon sê” begin. As jy sê “Simon sê raak jou neus”, moet almal aan hulle neus raak. Maar as jy sê “spring” sonder om met “Simon sê” te begin, moet die kinders nie spring nie. As hulle wel spring, is hulle uit die speletjie.)