Tema: Seediere

Bybelstorie: Jona en die groot vis

Waarde: Wees gehoorsaam

Jona en die groot vis

In die Bybel leer ons van ’n man met die naam Jona. God het vir Jona gesê om na die groot stad Nineve te gaan. Hy moes vir die mense van Nineve gaan sê dat hulle moet ophou om slegte dinge te doen. Maar Jona wou nie gaan nie! Hy het weggehardloop, op ’n boot geklim en ver, ver weg van Nineve af gevaar.

Terwyl Jona op die boot was, was daar ’n groot storm. Die mans op die boot was bang! Jona het geweet die storm het gekom omdat hy ongehoorsaam was aan God. Hy het vir hulle gesê: “As julle my in die see gooi, sal die storm ophou.” Hulle wou nie, maar uiteindelik het hulle.

“Plons!” val Jona toe in die see. Maar raai wat? Jona het nie verdrink nie! God het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk. Jona het so sleg gevoel dat hy ongehoorsaam was aan God. In die vis se maag het Jona gebid en gesê: “Ek is jammer, God! Ek sal doen wat U sê.”

Vir drie dae en nagte was Jona in die vis se maag. Toe het God vir die vis gesê om Jona op droë land uit te spoeg. Jona was veilig! Hy het dadelik na Nineve gegaan, net soos God gevra het. Hy het vir die mense God se boodskap vertel en hulle het opgehou om slegte dinge te doen.

(Jona 1-3)

 

  1. Opening

Het jy al ooit ‘n vis gesien? Hoe groot was die vis wat jy gesien het?

Het jy geweet dat sommige visse groter is as ons huis of skool?

In die Bybel lees ons van ‘n vis wat so groot was dat dit ‘n man kon insluk! Kom ons lees die Bybelverhaal.

 

  1. Ontdek

Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

Ja, ons het gesels oor hoe Jona nie gehoorsaam was aan God nie en toe deur ‘n groot vis ingesluk is. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.

Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Watter soort vis dink jy het vir Jona ingesluk?

Vir hoeveel dae lank het Jona in die vis se maag gebly?

 

  1. Vertel weer die storie

Kan jy my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)

Wat het God vir Jona gevra om te doen?

Het Jona eers na God geluister?

Hoe dink jy het Jona binne-in die groot vis se maag gevoel?

Wanneer voel jy so?

 

  1. Waarde

Hierdie week het ons gesels oor hoe Jona nie gehoorsaam was toe God hom gevra het om met die mense van Nineve te praat nie.

Wat het gebeur toe Jona nie na God geluister het nie?

Het jy al ooit nie na jou ouers of juffrou geluister nie?

Wat het toe gebeur?

Dis belangrik om te luister wanneer God en ons ouers of juffrou ons vra om iets te doen. Om gehoorsaam te wees, wys vir hulle dat ons hulle liefhet en dat ons respek het vir hulle.

Wat sal jy doen die volgende keer as jou ouers of juffrou jou vra om iets te doen?

 

  1. Aktiwiteit

In ons Bybelverhaal hierdie week leer God vir ons ‘n belangrike les oor gehoorsaamheid.

Hoe kan jy vir jou ouers en onderwyser wys dat jy hulle liefhet en respekteer?

Onthou jy hoe Jona deur ‘n groot vis ingesluk is toe hy ongehoorsaam was aan God? Nou, kom ons maak ons eie groot vis!

(Gee vir elke kind ‘n papierbord en kryte of koki’s. Laat hulle die bord inkleur om soos ‘n groot vis te lyk. Hulle kan oë, skubbe en ‘n groot mond teken.)