Tema: Alles oor my mense: Erfenis, taal en kultuur

Bybelstorie: God se groot familie

Waarde: Wees lief vir ander en help ander

God se groot familie

Een van Jesus se vriende, Johannes, het ’n Bybelboek met die naam Openbaring geskryf. In hierdie boek skryf Johannes oor ’n spesiale droom wat hy gehad het. Hy het iets wonderliks gesien – ’n groot skare mense in die hemel!

Hulle was almal saam rondom God se troon. Hulle het wit klere aangehad en palmtakke vasgehou. Daar was mense van elke soort en elke nasie. Party het swart hare gehad, party het bruin of blonde hare gehad, party was donkerder, ander was ligter, party het blou oë gehad en sommige het bruin of groen oë gehad. Hulle het almal verskillende tale gepraat.

Maar al was hulle so verskillend, het hulle dieselfde vreugdevolle liedjies gesing en God saam geloof. Hul harte was bly omdat hulle almal deel was van God se groot familie. In God se familie is almal belangrik en geliefd, maak nie saak waar hulle vandaan kom nie.

God het belowe om vir altyd vir hulle te sorg. Hy sou elke traan van hul oë afvee, en hulle sou nooit weer hartseer wees of pyn hê nie. In die hemel sou hulle by God woon en Sy vrede en vreugde geniet.

Onthou, jy is ook deel van God se familie! Jy kan God liefhê en lief wees vir almal om jou deur ander te help en vriendelik te wees met almal om jou. Saam kan ons sing en God prys, net soos die mense in Johannes se droom!

(Openbaring 7:9-17)

 

1. Opening

 Vertel my meer oor jou familie?

Lyk julle soos mekaar?

Het jy al ooit mense gesien wat van ‘n ander land is, of wat ‘n ander taal as jy praat?

 In die Bybel vind ons uit hoe God se familie lyk. Kom ons lees die Bybelverhaal.

 

2. Ontdek

 Kan jy die storie onthou wat ons gister gelees het?

 Ja, ons het oor God se familie gesels. Kom ons lees weer die Bybelverhaal.

 Wat is jou gunsteling deel van die storie?

Watter verskillende soorte mense sien jy in die prentjie?

Wat doen hulle?

 

3. Vertel weer die storie

 Kan jy vir my vertel wat gister in ons storie gebeur het? (Vra leidende vrae en lei die kind deur die prent en storie te gebruik.)

 Wie kan deel wees van God se familie?

Moet hulle almal dieselfde lyk?

 

4. Waarde

 Hierdie week het ons gesels oor hoe God se familie lyk. Jy is ook deel van God se familie as jy Hom as jou perfekte Pappa aanvaar.

 Hoe behandel julle gesin mekaar?

 Om deel te wees van God se familie beteken dat ons mekaar help. Ons is lief vir almal op aarde en is vriendelik teenoor almal, maak nie saak of hulle anders as ons lyk, klink of optree nie.

 Kan jy aan ‘n tyd dink toe jy iemand gehelp het?

Hoe het dit jou laat voel?

 

5. Aktiwiteit

 In ons Bybelverhaal hierdie week wys God vir ons hoe dit lyk om deel te wees van Sy wonderlike familie.

 Hoe voel dit om te weet dat jy deel kan wees van God se familie?

Hoe kan ons liefde wys aan iemand wat anders as ons is?

 (Speel vrolike lofprysingsmusiek en deel papier en kryte uit. Vra die kinders om hul eie gesinne te teken en te dink oor wat hul gesin spesiaal maak. Terwyl hulle teken, praat oor hoe hulle deel kan wees van God se familie wat mekaar liefhet en help.)